Standard Of Excellence


MeyBor Borane MeyBor Borane MeyBor Borane
Algemene Voorkoms:
Die Boran is 'n mediumraam dier met goeie bespiering en gewig vir ouderdom. Die onderskeie liggaamsdele is in perfekte verhouding met mekaar. Groot geslagsdemorfisme kom by die Boran voor. Die bulle is baie groter en manliker as die koeie wat op hul beurt baie vrouliker en kleiner is. Albei geslagte vertoon die tipiese Borankenmerke. (Skof, kapasitiet, vel, bespiering, kop, bek, nekvel, kondisie, stert, ens.)

Kop:
Kompak en breed tussen die oë met prominente oogbanke. Die ore is relatief klein met kort hare. Die bek is breed en die onderbek sterk (diep) met sterk lippe. Die oë, ore, bek en neus is goed gepigmenteer. Die kop is goed bespierd, en vertoon van die kant gesien effens konveks agv. die spiere bo die oë, maar die neusbeengedeeltes is droog.

Nek:
Diep en relatief kompak, met goeie aansluiting voor en agter. Die nek van die bulle is sterk, dik, bespierd en donker gekleurd, met 'n vol aansluiting by die skouers en kop. Die prominente nekvel loop oor die diep en vol voorbors wat nie afwaarts buig nie.

Skouers:
Diep, breed, gespierd en stewig aangeheg. (Vrugbare koeie se skouers is taamlik los.)

Skof:
Reg bokant (in lyn met-) die voorbene geplaas, gerond, goed ontwikkel en smelt goed saam met die lyf.

Rug en Lende:
Lank, breed, reguit, sterk en bespierd.

Bors en middelstuk:
Breed en diep. Goed gevulde agterskouers (haselêer) en elmboog. Die ribbes is goed gewelf en diep, skuins geplaas na agter en, van agter gesien, nie rond of platsydig nie. Die pens het geweldige kapasiteit. (Lengte, breedte en diepte.) Van die sykant gesien vertoon die middelstuk vierkantig. Die flank is diep.

Skede:
Nie groot en losswaaiend nie, hang met 'n hoek na voor, en eindig in 'n V-vormige, klein, nie vlesige sfinkter met goeie beheer.

Kruis:
Lank vanaf heupe na sitbene, en breed tussen heupe en tussen sitbene. Die kruis is nie te dakkig nie, en hang van heup na sitbeen ongeveer 22.5 grade. Die heupbene is nie prominent nie en die hele kruis is goed bedek met spiere. Die draaiers is laer geplaas as die sitbene.

Stert:
Die kruiskam is nie prominent nie en die breë stertwortel is effe hoër as die sitbene. Die stert is lank en vernou na die punt wat eindig in 'n groot digte, gepigmenteerde kwas.

Dye:
Breed en vol van sykant en agter gesien, en loop laag af na 2e dy. Die breedste deel van die agterkwart is by die knie. (Stifle)

Agterbene:
Wyd geplaas, sterk, met goeie behoeking (nie reguit of sekelhak) en nie fyn of grof nie. Die mediumlengte been moet in verhouding met die res van die lyf wees.

Kote en voete:
Kote nie regop of slap nie. Kloue regop, simmetries, met reguit binnekante, kort, diep hak, teen mekaar geplaas, en gepigmenteerd. Gewig eweredig op albei kloue. Voorbene reguit. Hoefkroon nie geswel.

Vel en haar:
Dik, los, beweeglike en verkieslik gepigmenteerde vel, sonder oormatige voue, met kort glansende olieryke haar.

Uier en geslagsorgane:
Die uier is goed ontwikkel met gepigmenteerde mediumgrootte spene. Die vulva is goed ontwikkel en gepigmenteerd. Die skrotum is groot met 'n dun nek en nie veel laer as die hak nie. Die teelballe is ewe groot, en die sak is sag en glad met kort hare en is nie gedraai nie. Die sak is gepigmenteerd, veral by die punt.

Beweging:
Die Boran beweeg gemaklik en veerkragtig, met bene en voete wat parralel aan mekaar bly en nie in of uitswaai nie.

Temperament:
Die Boran is kalm, hanteerbaar en gelykmatig.